Monday, 20 February 2012

FANTASTIESE KOPIES IN MIDDELMARK VIR PLEKKIE BY DIE SEE [1/29/2009]


David van Rooyen

Daar was die afgelope vakansie steeds sterk belangstelling in duur vakansie-eiendom in gesogte speelplekke, maar vir kopers in die middelmark wat ‘n plekkie by die see verlang, is daar nou fantastiese winskopies beskikbaar.  Dit blyk uit kitspeilings wat verskeie eiendomsgroepe onder hul agente in kusdorpe gedoen het.

In gesogte vakansiebestemmings, soos Plettenbergbaai en Knysna aan die Kaapse suidkus, asook Kaapstad se Atlantiese kus, het agente die afgelope vakansie steeds fluks sake gedoen.

Die Re/Max-agentskap in Knysna sê die agentskap was die afgelope vakansie die besigste in die afgelope vyf jaar.  En die agentskap in Plettenbergbaai berig dat daar nie net baie belangstelling van voornemende kopers was nie, maar verkope was ook op dieselfde vlak as in die vorige jaar.

Daarby word verwag dat nog verkope uit die vakansie se navrae sal volg omdat kopers wat die vakansie gebruik om eiendom te soek eers ‘n besluit neem wanneer hulle in Februarie weer by die huis is.

Mnr. Graham Anley sê hy het die indruk gekry dat kopers besluit het om die vakansiemark te betree terwyl pryse laer is omdat hulle verwag dat pryse kan begin styg as rentekoerse verder daal.

Dit is egter in die middelmark waar daar volgens die ERA-groep tans fantastiese winskopies aan die kus beskikbaar is. Dit is deesdae moontlik om vir so min as
R450 000 ‘n eenheid in Blaauwberg aan die kaapse weskus te koop.
Volgens me. Helena Visser van ERA Steer in Blaauwberg kan ‘n mens vir die geld ‘n tweeslaapkamer-eenheid in ‘n veiligheids-kompleks koop.

“So ‘n eenheid is nie baie luuks nie, maar die prys is ‘n goeie aanduiding van hoe pryse afgekom het.”

In gebiede soos Woodstock, Observatorly en University Estates is Gautengers besig om eenhede vir R700 000 te koop. Aan die Kaapse suidkus bied kleiner plekke soos Sedgefield en mosselbaai goeie geleenthede en veral in Wildernis is puik winskopies beskikbaar.

Mnr. Henning Swanepoel van ERA National sê spoggerige woonstelle in Sedgefield met verhuringspotensiaal word vir R490 000 verkoop en ‘n gesinswoning naby die see is vir R790 000 in die mark. In Danabaai naby Mosselbaai word ‘n groot huis vir R1,6 miljoen bemark en by Hartenbos kos drieslaapkamer-woonstelle met twee badkamers net R795 000.

En in die Agulhas-gebied, wat dorpe soos Struisbaai, L’Agulhas, Arniston en Bredasdorp insluit, is daar eiendom vir so min as R325 000 beskikbaar.  Mev. Strepies van Wyk, hoof van die Realty1-groep se Kantoor in Kaap Agulhas, sê eiendom in die gebied verkoop nou vir minder as in 2007. Sy meen dit is nou 10% goedkoper om ‘n eiendom by die see te bekom.  Vir tussen R1 miljoen en R2 miljoen is daar heelwat huise met ‘n uitsig oor die see beskikbaar.

In Port Elizabeth word huise in gewilde voorstede soos Humewood, Summerstrand en Lovemore Heights verkoop vir sowat 30% minder as wat hulle eintlik werd is.  Mnr. Rishaad Mohammed van ERA berea-Noord in Durban sê verkopers in die sentrale Berea- gebied vra nou 30% minder as ‘n jaar gelede.

No comments:

Post a Comment