Monday, 20 February 2012

Die Burger - Buite [2/4/2009]


die burger buite

“Daar het hulle by Elim gekom, waar twaalf waterfonteine en sewentig palmbome was. En hulle het daar by die water laer getrek.”


Toe die oudste dorpie in die Strandveld, halfpad tussen Gansbaai en Bredasdorp, in 1824 deur die Morawiese sendelinge gestig is, het hulle dit heel gepas geag om die naam in Die Bybel te vind.


Vandag is die Elim-wyk die suidelikste wyngebied in Afrika met gevolglik die suidelikste wingerde op die vasteland. Maar hier gaan dit nie net oor wingerd en wyn nie. Nee, dit gaan ook oor graan en fynbos; vee, wildsbokke en voëls; vleilande en natuurreservate; wonderlike mense en heerlike kos.


Septembermaand het ek koers gekies soontoe – oor Caledon en Bredasdorp, net anderkant Bredasdorp regs gedraai na Die Dam/Elim/Gansbaai (R317) en ’n ent verder weer regs by die T-aansluiting na Elim/Baardskeerdersbos.
Op die bord waarop staan Wolvengat/Die Dam/Buffelsjags het ek links op die grondpad gedraai tot by die Strandveld Vineyards waar allemintige walvisbeendere my ingewag en verwelkom het.


Dit sou my basisstasie vir die volgende twee dae wees – in een van die twee pragtig gerestoureerde, selfonderhoudende arbeidershuisies op die plaas.


As mens nou met daai teerpad na Elim/Baardskeerdersbos gaan, kry jy links die tuiste van Black Oystercatcher-wyne (Moddervlei van Dirk (Vaatjie) Human), gevolg deur die tuiste van The Berrio-wyne (ook Moddervlei, maar van Francis (Frankie) Pratt) en regs Zoetendal-wyne van Johan (Idols) de Kock.


Zoetendal het ook ’n warme gastehuis met ’n pragtige uitsig.
Die Strandveld Vineyards en Zoetendal het albei proekamers, terwyl Black Oystercatcher en The Berrio s’n teen einde November/begin Desember reg vir die publiek behoort te wees.
Onder die natuurreservate hier wat die mond van enige eko-toeris sal laat water, is die bekende De Hoop-natuurreservaat, Andrew’s Field (’n privaat reservaat), die Agulhas Nasionale Park en Geelkop-natuurreservaat.


En dan is daar natuurlik Elim.
Die Saterdag het ek eers die gasvryheid, wyne en kos van die kontrei geniet en toe met ’n groep Britse wynskrywers en internasionale wynaankopers ’n bietjie die omgewing en al sy wonderlike natuurskatte gaan verken.


Elke dan en wan het ek op ’n fietsryer of drie afgekom en na ’n ruk besef dat die driehoek, gevorm deur Bredasdorp, Agulhas en Elim, perfekte teer- en grondpaaie het om jou van jou oortollige energie vry te maak.


Die volgende oggend is vier van ons per bergfiets tot by Vaatjie se strandhuis by die see waar die ander manne ons ingewag het. En daar het die manne gewys dat hulle net so handig in die kombuis en voor kosmaakvure is soos in die kelder. Namibiese oesters en sauvignon blanc is gevolg deur perlemoen en ’n verskeidenheid wittes. Toe volg vars galjoen en nog wittes.
En asof daar g’n einde aan dekadensie kom nie, word ontbeende springbokboud met shiraz voorgesit, gevolg deur halfgaar beesfillet en nog shiraz.


Daar was ook nagereg gewees, maar teen daardie tyd was ek teen die toue en ek het geweet dat daar geen manier was dat ek daardie middag nog sou terugry huis toe nie.


Nee wat, môre is nog ’n dag, het ek gereken, en ’n mens is mos maar net een keer jonk.

No comments:

Post a Comment