De Oude Arena in Bredasdorp, Kaap Agulhas, bevestig dat goed beplande eiendomsontwikkelings, wat die omgewing, natuur en historiese erfenisse in ag neem, ten spyte van toenemende ekonomiese druk op die eiendomsmark, gesogte beleggings en verblyf bied vir diegene wat plattelandse rustigheid bo stadsgewoel verkies.
Die naam “De Oude Arena” is ontleen aan die hoof-arena van Bredasdorp se eertydse skouterrein wat enkele jare tevore in onbruik verval en aan die ontwikkelaar, Chianti Homes Edms Bpk, verkoop is. Die eerste skou het in 1901 op dié terrein plaasgevind en meer as ‘n eeu later het die skougenootskap besluit om dit met die jaarlikse Agri Mega Week in Bredasdorp te versmelt.
Die gemeenskap en perdeliefhebbers, wat hulle diere by die skouterrein gehuisves het, was aanvanklik skepties toe De Oude Arena op die historiese gronde aangekondig is. Hulle is gerusgestel toe die plattelandse plaaskarakter van die duplekskompleks en woonhuise bevestig het dat die historiese landbou- en perdekultuur van die terrein behoue sou bly.
Die eerste huise en eerste duplekskompleks nader voltooiing en Me Strepies van Wyk, Prinsipaal van Realty1 in Kaap Agulhas, staan bont om voornemende kopers en beleggers te ontvang. Sy meen die kultuurhistoriese vergestaltings in die wonings is treffend. “Argitek Chris de Hart het met die ontwerp van die duplekse en huise seker gemaak dat elke woning ‘n unieke karakter het. Daar is geen sprake van ‘n skemakultuur nie” sê Van Wyk.
Buite die eenheid herinner die afgewitte muur om De Oude Area aan ommuurde plaasopstalle van weleer. By die ingang, waar toegangsbeheer toegepas word is ‘n pragtige en veeldoelige gemeenskaplike gebou wat hoofsaaklik as museum van die ou skouterrein se kultuur- en geskiedeniserfenis sal dien.
Die museum bevestig die ontwikkelaar, Mnr Fanie Theron Besturende Direkteur van Chianti Homes, se vasberadenheid dat die grond in samehang met sy ryke verlede van legendariese persoonlikhede, gebruike en tradisies sal voortbestaan. Met weinig moeite kan die museum ook vir sosiale geleenthede en selfs as kapél vir troues aangewend word.
Voorts herinner die ingangsgebou en plaveistrate binne, aan die ingang en binnehof van die Kasteel in Kaapstad.
Tussen vier lanings huise wat veral die koring-, perde- en silokultuur van Kaap Agulhas verbeeld, lei plaveistrate met oop stormwatervore van klip na ‘n sentrale fontein. Weens die plaveipaaie, korbeelstene en gruissypaadjies wat ‘n uitgebreide gemeenskaplike tuin omring, is hedendaagse voertuie byna ongehoord en verwag ‘n rustige wandelaar eerder voetgangers en ruiters te perd. ‘n Gevoel wat versterk namate die beplande olyfboord, boomlanings en stalelemente en temas soos perdedrinkbakke tot stand kom.
Die ouwêreldse straattonele en plaasargitektuur word deur ‘n verskeidenheid muurteksture, wat wissel van rustiek, geverf, afgewitte kalkklip en rou mure, benadruk. Opvallend is die vensterelemente, stutmure en deure met stalhingsels vol verlede. Tipies van die koringkultuur is die silo-effek waarmee talle huise en die duplekskomplekse spog. Voor- en agterhowe bied inwoners besonderse ruimte en privaatheid.
Binne verseker ruimte, vuurherde en vertrekke wat óm die leefarea van eenvlakhuise geskik is, dat die plaasboustyl uiteindelik herleef. Die luuksheid en duursaamheid van die interieurs suggereer dat De Oude Arena se plaaskultuur en historiese aard nie almal beskore is nie. Tog is die eenhede puik geprys en kan dit vanaf R720,000 bekom word.
Volgens Mnr Fanie Theron is daar met sorg toegesien dat De Oude Arena by die natuur en aard van Bredasdorp inskakel en spog meeste wooneenhede met ‘n pragtige uitsig oor Soetmuisberg, die omliggende landelike gebied en natuurlik die skoonheid van die ontwikkeling self.
Me Strepies van Wyk vertel daar is vier duplekskomplekse, Suffolk, Lucitano, Pinto en Hackney; elk met 8 eenhede, dit wil sê 32 in totaal. Die twee slaapkamers en badkamer is bo. Onder is die kombuis en leefarea. Elke blok het twee eenhede met ‘n “silo”, wat as ‘n derde slaapkamer of as studeerkamer benut kan word. Me van Wyk sê heelwat van die duplekse is reeds verkoop en blyk gewild by enkel- en groepbeleggers te wees.
“Daar is 48 huise, met twee- of drieslaapkamers, met ‘n intreeprys van R1,100,000. Huise met ‘n “silo” bied die opsie van ‘n vierde slaapkamer of studeerkamer”, sê Van Wyk.
Mnr Fanie Theron sê die karakter van die huise en ontwikkeling is vas, maar dat kopers insette met die uitleg van hulle wonings kan lewer. “Afgesien van die enkelvlakhuise is daar ook dié met dubbelvlakke, waarvan die slaapkamers bo en die leefarea onder is.”
Volgens Me Strepies van Wyk is belangstelling in die huise uitstekend en is dit opvallend dat veral plaaslike kopers die veiligheidsaspek van De Oude Arena in gedagte het.
Onlangs het Harry Viljoen Eiendomme aangekondig dat hulle die stuk grond aanliggend tot De Oude Arena, vir die ontwikkeling van ‘n omvattende inkopiesentrum bekom het. Omdat De Oude Arena en die inkopiesentrum sy-aan-sy geleë is, het die onderskeie ontwikkelaars ooreengekom dat die sentrum dieselfde boustyl- en elemente sal navolg ten einde die gesogdheid van die uitbreidings te bewaar. Volgens hom sal die inkopiesentrum ‘n verskeidenheid bekende handelsname huisves en ook parkering vir sowat 300 voertuie voorsien.
Volgens Me Strepies Van Wyk reageer die eienaars van wonings by De Oude Arena uitstekend op die inkopiesentrum en meen hulle dat die holistiese ontwikkeling op die ou skougronde, van die nuwe eiendomme selfs beter beleggings maak.
“De Oude Arena is ‘n projek van hoop. Dit beteken baie vir die dorp en is ‘n hupstoot vir die totale sakesektor. Dit verleen erkenning aan die geskiedenis van Bredasdorp en landbou in die omgewing. Daar is baie werke geskep en 92% van die meer as 100 kontrakteurs en hulle werkers wat help ontwikkel en bou, is van Bredasdorp”.
Vir verdere inligting kan Me Strepies van Wyk van Realty 1 Kaap Agulhas by 028 – 435 6181 of 082 801 6154 of e-pos: strepies@realty1agulhas.com gekontak word.